gia vang hom nay , dich vu seo , tap chi me va be , bao ve viet nam , bao ve viet nam , bao ve viet nam , bao ve viet nam , bao ve viet nam , suc khoe , thoi trang nam 2014 , suc khoe 2014 , shop thoi trang , tin tuc thoi trang phim le , hi tech , tin cong nghe , cong nghe , thoi su , tin moi , thoi trang , the gioi smartphone , cong nghe , may tinh bang gia re , dien thoai , su kien , game mobile , nghe si viet , the gioi nhac , nha cai , dien dan bong da , best bookies, clevermart.vn , goldcare.vn , phonereview.vn , tinhangngay.vn , sieuthisachnoi.com , doctruyentranh.tv , sieuthismartphone.vn , kinhthongminh.org , thietbithongminh.tv , sieuthithietbiso.org ,



Caprivi en Kaudom Toer  - 22 Aug tot 2 Sept 2009

Radio Namakwaland het sy eerste toer vanaf 22 Augustus tot 2 September 2009 aangebied.  Die bestemming was Namibië en ons het deur die Kaudom na Caprivi gereis.   Klik gerus op die skakel hier onder en reis  saam met ons deur die pragtige deel van Afrika.  Maar, lees gerus eers deur die onderstaande gedeelte om ‘n kykie te kry in ons wedervaringe. 

FOTOGALLERY : CAPRIVI / KAUDOM TOER 2009

Toerlede:  Bernard en Lanette Lamprecht (Vredendal), Johan en Leebia Engelbrecht (Vredendal), Willem en Annette Smit (Vredendal), Appie en Driekie de Klerk (Vredendal), Hendrik en Sanette Arp (Vredendal), Christal en Hannie Brand (Vredendal), John en Lulaine Smuts (Lutzville), Michiel en Martha Smuts (Malmesbury), Robert en Johanna Hayes (Springbok), Gustav en Marlene Kroeger (Melkbosstrand), Michael en Bernette Cotter (Parklands), Manus en Lana Blignaut (Oudtshoorn), Hermanus en Sheila Potgieter (Kirkwood), Albe/Suzie/Henk en Adel Bakker (Clanwilliam), Wally en Yvonne Bester (Otavi), Koos en Yvonne Muller (Okahandja), Kola/Annetjie/Annett en Kata Steyn (Koes) en die kosspan Steven, Nesi en regterhand.  Dan natuurlik ons toerleier, Neal van den Berg.  Wie kan vir beter vra.  Almal is dit eens dat ‘n toer sonder Neal nie dieselfde sou wees nie.

Dag 1 Saterdag 22 Augustus

Dis Saterdagoggend, 22 Augustus 2009. Maande se beplanning is agter die rug en Radio Namakwaland se twaalf dae lange toer na die Caprivi het uiteindelik ‘n realiteit geword.  ‘n Gedeelte van die toergroep kom reeds vieruur die oggend bymekaar om die 1 250km tussen Vredendal aan die Kaapse Weskus en Windhoek in Namibie aan te pak.  Vier ure later word die eerste ontbyt   uitgepak. Knipmesse word uitgehaal vir die doeksagte skaapnekke wat spesiaal vir die  geleentheid voorberei is. Daar’s ook frikadelletjies, gebakte wors, gekookte eiers en toebroodjies om die innerlike verder te versterk  en  boeretroos om dit mee af te rond.  Na ontbyt trek die manne se oe toe en is dit, soos vooraf ooreengekom, die vrouens se beurt om agter die stuurwiel in te skuif.  Die vrouens se swaar voete laat die rit na Keetmanshoop in ‘n oogwink verbyglip.  Oppad Mariental toe, met die manne weer agter die stuur, begin Appie en Driekie de Klerk twyfel of hul tent, wat hul spesiaal vir die geleentheid aangekoop het, se pale ingepak is.  Op Mariental word hul vermoedens bevestig. Die tentpale le nog op Vredendal. Dan is daar ook Christal en Hannie Brand se Toyota wat se lugversorging probleme gee. Een oproep na ons toerleier, Neal van den Berg in Windhoek en almal se probleme is iets van die verlede.   Met ons aankoms in Windhoek het Armand Basson van I Dream Africa reeds ‘n ander tent gereel en die vriendelike personeel van Pupkewitz Toyota in Windhoek het – neem kennis – op ‘n Saterdagmiddag uitgekom om die probleme met die lugversorger van die Toyota te herstel.  Met almal se probleme vir eers uitgesorteer, sluit die grootste gedeelte van die toergroep, wat uiteindelik uit 43 mense in 17 voertuie bestaan, op Elisenheim, 15km noord van Windhoek by ons aan.  Hier kry ons dan ook kans om mekaar beter te leer ken, ons eerste primitiewe stort te neem en alles in plek te kry vir die toer wat amptelik die volgende dag begin.

Dag 2 Sondag 23 Augustus

Sondagoggend 23 Augustus ontvang elke toerlid  ‘n geskenkpak met onder andere ‘n toerbaadjie en -hoed daarby ingesluit. Die voertuie word elkeen met ‘n radio toegerus sodat ons voortdurend met mekaar in verbinding kan bly.  Daarna word die 520km na Roy’s Camp, 60km Noord-Oos van Grootfontein aangepak. Middagete word so 15 km Noord van Otjiwarongo, onder ‘n koelteboom langs die grootpad genuttig. Na middagete maak ons ‘n draai by die  meteorite.  Dis ook hier op die grondpad wat Johan en Leebia Engelbrecht ‘n probleem met hul Toyota se ratkas ondervind.  Weereens kom ons toerleier, Neal van den Ber, tot hul redding.  Hy kontak vir Steven Venter van Steve Auto Repairs op Grootfontein wat nie skroom om sy Sondagmiddag op te offer om ons behulpsaam te wees nie. Terwyl die nodige herstelwerk gedoen word, gebruik die res van die groep die geleentheid om branstof in te gooi. Die res van die rit is voorspoedig en voor sononder word daar by Roy’s Camp kamp opgeslaan. Dis ook hier waar die laaste vier lede van die toergroep by ons aansluit. Langs die kampvuur word daar later gekuier, geskerts, geeet en ‘hofsitting’ gehou. Toerlede wat gedurende die dag die reëls oortree het, word tot groot vermaak van  die res van die groep aangekla, verhoor en gevonnis.

Dag 3 Maandag 24 Augustus

(Afstand 280km) Anders as ander Maandae, was die een met opwinding gevul.  Vir die meeste van ons sal dit ons eerste besoek aan die Kaudom wees.  Ons besoek die bekende Boesmanland dorpie, Tsumkwe en maak kennis met Hendrik en Elize van Zyl, wat onder die Boesmans werksaam is.  Hier is ook ons eerste kennismaking met ‘n ‘tradisionele slaghuis’ langs die hoofroete.   Hier besef ons gou dat net die nodigste nou in die winkels beskikbaar sou wees. Die aand in Sikereti is ons eerste kennismaking met die ongereptheid van die natuur. Tente (behalwe vir die met daktente) word in die stof opgeslaan. Ons besef dat ons snags maar moet binnebly aangesien daar niks is wat ons teen die wilde diere beskerm nie.  Die kosspan is dan ook die eerste om deur te loop.  Na ete word daar kampvuur gemaak en tot laataand na Johan (Potlood) Engelbrecht, Namakwalanse storieverteller van formaat, se stories geluister.  Toe  die kosspan uiteindelik kans kry om tent op te slaan, oorval die hienas se honger hul en verras hul die kosspan met ‘n besoek in die kamp.  Die uiteinde van die saak was dat die kosspan se tent nooit opgeslaan is nie. Hul het sommer in hul voertuig oornag.  Die asdrom met die oorblyfsels van die aand se kos is die bosse ingesleep en kon glad nie die volgende dag opgespoor word nie.

Dag 4 Dinsdag 25 Augustus

(120km) Dinsdag is ‘n dag vol opwinding.  Hendrik Arp en Kata Steyn (die enigste kind op die toer) verjaar. Kata se ma ry oor haar verjaardagkoek, maar hy is darem nog so dat ons elkeen daarin kan deel. Op ‘n vroegoggend stappie om die omgewing te verken, word leeuspore langs die kampterrein opgemerk. Daar word besluit om net na ontbyt een van die naby geleë watergate te besoek. Hier word die eerste olifante gesien en is dit vir baie van ons die eerste kennismaking met olifante in die natuur.  Oppad terug na die kampterrein ondervind die BMW X5 van Robert en Johanna Hayes van Springbok meganiese probleme.  Waar daar natuurlik ‘n klomp mans en voertuie bymekaar is, is fabrikate en  ego’s altyd ter sprake. Nodeloos om te se dat die manne dit baie geniet het toe ‘n Nissan uiteindelik met die BMW op sleeptou die kamp binnekom. Danksy ‘n satellietfoon tot ons beskikking kon ons hulp op Grootfontein kry om die voertuig in te sleep.  Nadat die reëlings in plek was vir die insleep van die BMW en die versorging van Robert en Johanna, vertrek die res van die toergroep op die roete van ongeveer 100km  na die Kaudomkamp. ‘n Paar kilometer anderkant Sikereti word daar weer by ‘n watergat stilgehou. Ons voel soos volwaardige toeriste op die pragtige uitkykpunt met ons verkykers in die hand. Dit roete is vol verrassings. Die manne kry die geleentheid om bietjie met hul 4 x 4 voertuie in die dik sand te speel en selfs die Toyota 4 x 2 van Appie de Klerk bereik die anderkant veilig. Die dolfhoutbome, wat volop in die area voorkom,  steel almal se harte. Olifante word oral op die roete opgemerk. As gevolg van die BMW wat gebreek het, bereik ons ons bestemming eers teen sononder. Die geriewe in die Kaudom kamp is min en word storte opgeslaan om die moeë lywe skoon te kry.  Daar is ook nie hout beskikbaar vir die kosspan nie en moet hout eers bymekaar gemaak word. Die aand word weer op gesellige wyse rondom die kampvuur afgesluit en nabetragting oor die dag se gebeure word gehou.  Wanneer dit tyd word om in te kruip is Hendrik en Sanet Arp dan ook bevoorreg om in hul daktent na die olifante te lê kyk wat sommer neffens hul blyplek verby stap.

Dag 5 Woensdag 26 Augustus

(360km) Met sonsopkoms is dit reeds Woensdag, 26 Augustus en is almal opgewonde om die 60km dik sand in die Kaudom aan te durf. Intussen kan die part vir die BMW nêrens in Namibie gekry word nie en is dit weer Steve Venter van Steve Auto Repairs op Grootfontein wat, ondanks die feit dat dit ‘n publieke vakansiedag is, ‘n nuwe part vir die BMW draai en installeer.  Deel van die nuwe installasie is, ongelukkig vir Robert en tot groot vermaak van die res van die groep, die van ‘n Toyota. Na hul mening dan ook maar die rede hoekom die BMW weer op die pad is. Die vrouens maak op die roete van die geleentheid gebruik om wildbesigtiging vanaf die Pajero se dak te doen. Dis stowwerig, maar dis lekker. Appie en Driekie de Klerk en hul Toyota 4×2 verdien egter ‘n medalje. Hulle val wel vas en moet uitgesleep word, maar dit het met momentum te doen omdat die konvooi te stadig beweeg.  Dit besorg baie pret en opwinding vir die res van die groep.  Hul bewys dat mens wel met ‘n 4×2 deur die Kaudom kan ry, maar iemand word egter aanbeveel om dit alleen te waag nie.  Terug by die teerpad  blaas die manne weer bande op en word daar, soos al die ander middae, net daar langs die pad sonder afskeep middagete gemaak. Na middagete ry ons teerpad Divundu toe – vir die ou weermagmanne seker beter bekend as Bagani. Teen donker draai ons net voor die Kwandorivier af Nambwa toe.  Met ons aankoms by die kamp word ons deur in olifant in die kamp verwelkom. Na die vorige aand in die Kaudomkamp waar daar geen geriewe was nie, is almal verheug om stort en toiletgeriewe te sien.  Niemand slaan ag op die bordjies nie.  Mansgeriewe is nie meer mansgeriewe nie en damesgeriewe nie meer damesgeriewe nie.   Daar word lekker saam gelag, geskerts en gekuier.  Laatnag raak ons in die pragtige kampterrein, reg langs die rivier aan die slaap en hoor ons die seekoeie in die rivier – wat ‘n wonderlike ervaring.

Dag 6 Donderdag 27 Augustus

(50km) Donderdag 27 Augustus word ons wakker met die roep van die visarend in die agtergrond. Vroegoggend word selfs ‘n luiperd se spoor aan ons uitgewys.  Dis reeds dag 6 van die toer.  Mense is nou lankal nie meer vreemdelinge vir mekaar nie en word daar lekker gekuier.  Vandag is ‘n effense rusdag, want ons slaap vanaand weer op Nambwa. Party gebruik die geleentheid om bietjie wasgoed uit te spoel, die ander om ‘n middagslapie in te kry.   Nambwa is bekend vir sy baie diere en daar word heeldag al langs die rivier af gekuier en rustig wild gekyk.  Dis olifante, bobbejane, kameelperde en verskillende boksoorte, maar die seekoeie en krokodille ontwyk ons. Ons kan nie wag om te sien wat agter die volgende bos verskyn nie. Ons is meer as tevrede met dit wat ons alles te siene kry.  Met sonsondergang kuier ons by Horse Shoe Bend langs die Kwandorivier en beloer die bobbejane ons van alle kante, terwyl die olifante kom water drink. Soos elke ander aand word daar later om die kampvuur gekuier, geskenke uitgedeel en word die diere wat gesien is druk bespreek.

Dag 7 Vrydag 28 Augustus

(120km) Na ontbyt op Vrydag 28 Augustus word daar opgepak en teen die rivier af tot by Fort Doppies gery.  Herinneringe word opgediep en daar word op die fondasies van die kampterrein rondgeloop en stories vertel. Foto’s word geneem vir die wat by die huis is en diensplig hier verrig het. Daar word ook wyd bespiegel oor alles wat daar gebeur het. Daarna ry ons teerpad – oor die Kwandorivier tot by die pragtige Namushasha kampterrein met sy lowergroen grasperke en Lapa. Hier sluit Robert en Johanna Hayes weer by ons aan nadat hul op Sikireti moes agterbly. Ook hier word twee nagte geslaap aangesien ons as gevolg van die hoë watervlakke nie soos beplan, die Mamili kan binnegaan nie. Selfs die aanloopbaan by Namushasha is nog onder water. Nadat ons afgepak het vertrek ons op ‘n middagbesoek na die Mumuni wildtuin.  Die dag lewer nie baie diere op nie en besluit ons om maar terug te keer en die volgende dag weer te probeer. Oppad uit val die BMW vas moet hy deur ‘n Toyota’ uitgesleep word. Die nou reeds bekende ..‘alles loop reg, altyd reg Toyota’…kenwysie word saggies deur Hendrik Arp op die radio gefluit ….weereens onder luide applous van die manne. Dit het ons kans gegee om sommer ook pragtige foto’s van die sonsondergang te neem.

Dag 8 Saterdag 29 Augustus

(170km) Alhoewel almal ons inlig dat ons as gevolg van die watermassas nie die Mamili gebied kan binnegaan nie, besluit ons om tog op Saterdag 29 Augustus self te gaan kyk.  Oppad na die Mamili area kom ons af op ‘n boom wat afgekap is om in ‘n mokoro (boot) omskep te word.  Verder op ons roete ontmoet ons een van die hoofmanne van die area met ‘n AK47 om sy skouer.  Hy is egter baie vriendelik en neem ons na ‘n area waar hy dink ons die Mamili kan binnegaan.  Alhoewel hy en die toerleier, Neal van den Berg heuphoogte deur die water loop, besluit ons tog om die water met Neal se Toyota aan te durf.  Die bakkie is dan ook sonder enige drama of ‘n druppel water binne-in die bakkie, daardeur.  Aan die anderkant, verwyder van die res van die groep neem ons egter verkeerde roete en val vas in die modder -  in so ‘n mate dat ons nie self kan uitkom nie.  Dis hier waar ons ons opsies oorweeg.  Gaan ons heeldag self sukkel – gaan ons die groep vra om deur die water te loop en te kom help – gaan ons almal se uitsleep toue aanmekaar bind en deur die water oor die afstand probeer om die voertuig uit te kry of gaan ons die ander voertuig wat oor ‘n snorkel beskik vra om te kom help.  Daar word op die laaste opsie besluit en die hulp van Koos Muller word ingeroep. Koos is egter so gretig om sy vriend te help dat hy die verkeerde roete deur die water neem met katastrofiese gevolge.  Sy mede passasiers moet noodgedwonge by die vensters uitklouter terwyl water die voertuig binnestroom.  Met ‘n vinnig stootjie in die regte rigting is die voetuig, sonder om te stol die anderkant uit.  Toe is dit weer daai manne ding.  Tot groot vermaak van Koos en die ander manne was dit die keer die Jeep Cherokee wat tot die redding van die Toyota moes kom!!  Alhoewel dit reeds te laat was het Koos die keer die regte roete deur die water geneem en het albei voertuie veilig by die res van die groep aan die anderkant aangesluit.  Ons het toe maar besluit om die aftog te blaas en nie die Mamili te probeer binnegaan nie. Die res van die toergroep is gefassineer op die maklike manier waarop die voertuie deur die water ry en baie jaloers op die wat die ervaring kon meemaak. Daarna is ons terug na die Mumunu wildtuin en die keer gelukkig om nog olifante te sien – die  groot olifantbul en kalfie is die hoogtepunt van die dag !

Dag 9 Sondag 30 Augustus

Dis Sondag en Johan (Potlood) Engelbrecht neem vir ons die erediens waar.   Dit is ook die verjaardag van Radio Namakwaland se Hoofbestuurder, Bernard Lamprecht.  Aangesien dit so mooi is op Namushasha, besluit ons om die groepfoto sommer daar te neem.  Daarna is dit die 250km Ngepi toe. Oppad daarheen besoek ons eers die Mahango wildtuin.  Hier sien ons uiteindelik seekoeie, wildebeeste en krokodille.  Dis ook hier waar een van die toerlede selfs op ‘n handgranaat afkom het. Almal is verras oor dit wat op Ngepi vir ons gewag, veral die bad-, stort- en toiletgeriewe.  Dit is op die oewer van die Okavangorivier geleë met ‘n ongelooflik uitsig oor die rivier – dis heeltemal ‘opelug’ en skakel pragtig in by die omgewing.  By geleentheid het ‘n boot verbygevaar terwyl ‘n vrou besig was om in een van die oop sinkbaddens te bad en tot groot vermaak van die ander het een van die mans se opmerking dat, daar ‘n seekoei in die bad is!!

Dag 10 Maandag 31 Augustus

Dis Maandag 31 Augustus en die toer staan vinnig einde toe.  Vroegoggend word daar op rivierbote uitgegaan om wildbesigtiging te gaan doen. Die seekoeie is volop en ons sien darem ook ‘n krokodil. Ondanks die krokodille is daar oral vrouens wat wasgoed in die rivier was. Die kinders is ware entrepreneurs en oppad uit koop ons klein mokoro’s by hulle. Daarna pak ons die 220km Rundu toe aan.  Nadat ons kans kry om bietjie die dorp te verken en inkopies te doen, vertrek ons na Hakusembe op die oewer van die Okovango.  Dis prentjiemooi en voel dit hartseer om 100m van Angola af te wees en dit nie te kan binnegaan nie.  Die aand word daar tot laat om die kampvuur gekuier en bak Christal en Hannie Brand vir oulaas ‘n lekker potbrood. Geskenke word aan toerlede uitgedeel aangesien dit sommige van die toerlede se laaste aand saam met die groep is.  Gustav en Marlene Kroeger wonder steeds wie hul die nag kom opklop het met ‘n versoek dat Gustav tog net op sy ander sy moet lê sodat die res van die kamp ook kan slaap.  Gustav het egter nie ‘n saak nie -  hy het heerlik geslaap.

Dag 11 Dinsdag 1 September

(725km) Vandag is dit al die pad terug Windhoek toe.  Ons is bevoorreg om vir Wally en Yvonne Bester van Otavi saam met ons in die toergroep te hê. Net buitekant Rundu kry die kosspan se voertuig ‘n derde papwiel.  Ons moet hul noodgedwonge aan hulself oorlaat om op eie tyd – met ‘n wiel van die slaapwa – tot op Grootfontein te ry. Dis hartseer, want dis die einde van hulle toer en kry toerlede nie die geleentheid om van hul afskeid te neem en dankie te se nie. Ons is bevoorreg om vir Wally en Yvonne Bester van Otavi saam met ons in die toergroep te hê. Terwyl ons deur die Otavi gebied reis, vertel hulle ons meer oor die gebied en die mense wat daar woon en hang ons behoorlik aan Wally se lippe. Dit maak die terugtog baie korter.  Die aand (en toer) word op Elisenheim – die plek waar ons die toer begin het, afgesluit met ‘n buffet ete.  Verdere pryse word uitgedeel en elke toerganger kry kans om hul hoogtepunte en laagtepunte met die groep te deel.

Dag 12 Woensdag 2 September

Dis tyd vir afskeid neem en trane word gestort.  Dis die einde van ‘n baie suksesvolle toer tedanke aan ‘n ongelooflike groep mense.  Op die eerste dag van die toer is gesê dat ons elke oggend om nege-uur sou vertrek en nie een van die toerlede was een oggend laat nie.  Daar was ook nooit konflik tussen toerlede nie, ongeag die feit dat ons ‘n groep van 43 lede in 17 voertuie was.  Die kos was ongelooflik lekker en die kosspan altyd vriendelik.