DAG 2 : PILANESBERG NASIONALE PARK
So bietjie inligting oor die park: In 1979 is Operasie Genesis van stapel gestuur. Die doel van die operasie was om die wild getalle te versterk. As deel van die inisiatief is 110km se wild omheining aangebring en 188km se paaie gebou. Daar is toe 6000 diere in die area gevestig. In die jare wat gevolg het is die getalle uitgebrei tot meer as 7000 diere, 300 voëlspesies en meer as 200km se paaie. Die PILANESBERG NASIONALE PARK is die vierde grootste park in Suid Afrika en beslaan ongeveer 550km². Die vulkaniese krater waarin die park geleë is het 1300 miljoen jaar gelede tot uitbarsting gekom. Die park is vernoem na ‘n Tswana hoofman by name “Pilane”. Die groot 5 kan hier gesien word en jy kan ook die omgewing vanuit ‘n lugballon of vanaf ‘n olifant se rug besigtig.
Daar is nou nie lugballon gevlieg nie en niemand was op die rug van ‘n olifant nie, maar die dag was meer as opwindend vir elkeen van ons 37 toerlede.
Na ontbyt vanoggend, en wat n ontbyt in Manyane se restaurant, was almal eers onder die skadubome in die kampterrein byeen om kerk te hou. Johan Potlood was weereens ons prediker en sy treffende boodskap het elkeen geraak.
Na kerk is almal die Pilanesberg Nasionale Park in en wat ‘n dag. Sommer vroeg sien ons ‘n klomp leeus langs die pad en hulle was gereed vir ‘n fotosessie soos min. Toe is dit seekoeie en rooibokke en sebras – noem op en hulle was daar. Na ‘n heerlike middagete, weereens in die restaurant en ‘n kort middagrussie is die avontuur van vroeer die dag voortgesit. Die keer was dit kameelperde en olifante, en sommer baie van hulle. Die laaste toerlede verlaat die park met minute oor voordat die hekke gesluit word.
Die groep sit en wag al onder die bome toe die agterosse ook die kraal binnestorm om koffie te drink en koeksisters en cup cakes te geniet wat Hermien skielik te voorskyn bring.
Halfagt is dit weer etenstyd in die restaurant en daarna verdwyn almal stil stil gate toe vir n lekker nagrus na ‘n uitputtende en opwindende dag.
Vanaand is dit weer eens ‘n restaurant ete en toe slaaptyd. Wat ‘n heerlike voorreg om tienuur in die aand aan die blog te werk terwyl die volmaan helder skyn en die rooibokkies hier rondom ons rondloop.