Dag 11 Dinsdag 19 Augustus

DAG 11 SATARA NA BERG-EN-DAL

Dinsdag 19 Augustus.  Ons begin sommer vroegoggend en hoewel ontbyt seweuur gereed was, was die kampterrein voor vyf al bedrywig met sommige van ons lede wat lank voor die son uitkom al op en wakker is.

Almal was in afwagting om te hoor wat gisteraand se nagrit opgelewer het. Die klomp was egter baie bedeesd en daar was nie veel om van te vertel nie. Hulle was twee ure lank in die veld, goed koud gekry en baie min diere gesien. In elk geval niks waarna hulle eintlik uitgesien het nie.

Dana Swanepoel  lei ons oggend oordenking  en na ontbyt is die groep is vyf minute voor agt gereed en die konvooi staan buite Satara en almal se radios word getoets.

ʼn Lang rit van 160 km l voor en behalwe vir ons stop by ʼn piekniekplek langs die pad word daar ʼn uur lank gestop op Skukuza waar nie net die vrouens die winkel in vaar nie maar die manne bring self hulle kant. In die hele proses  is parkering veral met die klomp karavane en sleepwaens ʼn spesiale uitdaging en in die proses word die plaaslike verkeersbeampte se geduld tot die uiterste beproef maar op die ou einde is almal ongeskonde uit die dorp uit.  Jammer  meneer  verkeersbeampte, ons besef jy het jou hande vol. Ons waardeer jou toegewyde werk opreg.

Na Skukuza is dit die laaste skof tot by Berg en Dal.  Dis ons laaste kamp in die Kruger Wildtuin en ons slaap twee nagte hier. By ons aankoms is dit behoorlik ʼn geskarrel om almal op hulle staanplekke te kry.  Jy al gesien hoe dit lyk as 20 voertuie, 12 met sleepgoed,  ʼn kampeerterrein binneval?

Maar almal kom tot rus en ʼn paar gaan gebruik die laaste sonskyn om nog ʼn draai te ry. Die ryery lewer  ʼn uitstekende fotogeleentheid van ʼn luiperd in ʼn boomtak, ʼn baie klein baba olifant, en ʼn paar buffels sowel as vyf renosters op. Ongelukkig was die lig te min om foto’s van die renosters geneem te kry.

Môre is dit ons laaste dag in die park. Dis ons laaste dag van diere soek. Dis byna die einde van ons onvergeetlike toer…Terwyl ons hier onder ʼn sterrekombers in ʼn windstil aand  hierdie blog op datum bring,  lag die hiëna enkele honderd meter van ons af. Wat ʼn voorreg….

 

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos