Dag 13 Donderdag 21 Augustus

DAG 13 BERG-EN-DAL NA SABIE OMGEWING

Donderdag 21 Augustus.  Die Radio Namakwaland toer se Kruger Wildtuin deel is op ʼn einde en so die natuurskoon bewondering in die Sabie omgewing ook. Daar is slegs môre oor.  Dis duidelik dat almal voel dat die toer nog so ʼn klein bietjie langer kon wees.  Nog so ʼn aand of twee van saam kuier, dalk nog een wildsoek rit. Maar ongelukkig is die harde realiteit dat alle goeie dinge tot ʼn einde moet kom sodat die volgende goeie weer kan begin.

Sakkie van Zyl het vanoggend vir ons die dag met  ʼn oggendoordenking begin en half nege was almal gereed om die park te verlaat. Ons het almal nog die hoop gehad dat ons iewers nog vir oulaas ʼn Leeu of Luiperd sal sien maar helaas, die hoop het beskaam en ons is droëmond en bekaf  by die Malelane hek uit en oor die Krokodilrivier die gewone wêreld in.

Dana Swanepoel ry voor . Dis sy blyplek vir jare gewees en hy vertel van die mense en aktiwiteite. Ons vermy die besige N4 met sy padwerke en lang stoppe en ry die pragtige panorama roete deur die berge en plantasies.

In Sabie aangekom is ons reguit na ons kampeerplek by Merry Pebbles.  Wat ʼn pragtige plek.  Almal geniet die grasperke maar daar is nie baie tyd voordat ons weer vertrek om die eerste waterval te gaan kyk en na ʼn stewige stap vertrek ons na Pelgrimsrus. Vir almal van ons ʼn taamlike teleurstelling met vervalle geboue en baie min aktiwiteite.  Na ʼn onsuksesvolle koffiedrink sessie is ons terug in die motors en  in die pad terug Sabie toe.

Om die kampvuur en na ete word daar stories vertel en die 2 weke lange CJ Langenhoven  verhaal Petronella word ontrafel tot groot vermaak van die groep met elkeen se slotsom oor wat haar keuse dan nou was.

Môreoggend is dit die voorlaaste oppak wanneer ons na die Blyderivier  vertrek.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos