Dag 14 Vrydag 22 Augustus

DAG 14 SABIE NA SWADINI FOREVER RESORT

Vrydag 22 Augustus en die laaste dag van die toer is verby.  Dit beteken die hele  toer is verby. Kan mens jou indink dat ons twee weke gelede mekaar by Pilanesberg ontmoet het. Almal vol verwagting.  Wat wag?  Baie diere?  Nuwe vriende?  Dit klink vanaand of die verwagtinge grotendeels aan voldoen was.

Willem Smit het ons dag begin met die gereelde oggend oordenking waarna ons weer ʼn stewige ontbyt weggepak het.  Direk na ontbyt  begin ons  met ʼn besigtigingsroete vanaf Sabie tot by Gods Window met die asemrowende uitkykpunte. Ongelukkig is daar geweldig baie rook in die lug en is die lug dynserig. Meeste van die groep stap egter die paadjies tot by die reënwoud en geniet die uitsig.

Daarvandaan is dit na Bourke’s Luck waar daar die  Potholes almal beïndruk. ʼn Besondere gesig van maalgate en watervalle in die Blyderivier.

Van Bourke’s Luck af is dit na die uitkykpunt waar die Drie Rondawels die hoof aantrekking is.  Die klomp toerlede oe en aa behoorlik oor die omgewing. Dit is eenmaal ʼn omgewing waar elke stukkie van die energie, geld en moeite die moeite werd is.

Na al die stap en klim is ons oppad na ons blyplek maar nie voordat daar eers  by ʼn padstal stilgehou word en behoorlik inkopies gedoen is nie. Die voertuie word gelaai met avokado’s,  lemoene, papajas,  nartjies en makadamia neute.

Teen 3 uur arriveer ons by Swadini Forever Resort. Wat ʼn reusagtige plek. Uitstekende staanplekke op gras met restaurant en winkel en warm swembad, om net In paar te noem.

Nadat daar ʼn groepfoto geneem is maak almal gereed vir ons afsluiting in die restaurant waar daar pryse uitgedeel word en alkeen kans kry om sy ervaring van die afgelope twee weke met die groep te deel.

Die mening is oorwoë, dit was ʼn sukses en almal het dit terdeë geniet.

Dankie Vader dat u ons bewaar het. Dat almal gesond en veilig is.  Alle eer kom u alleen toe.

(Die Panorama roete in Mpumalanga bied van die mees dramatiese landskappe op aarde en dit is vandag ons voorreg om deel hiervan te wees. Die gewildste deel van die Panorama roete is die area wat die Blyderivier Canyon, die derde grootste canyon in the wêreld insluit. Die Blyderivier Canyon bewaringsgebied beslaan ongeveer 29,000 hektaar van ongeëwenaarde prag, en is ryk aan flora en fauna. Die Canyon strek oor 26 kilometer in lengte en is ongeveer 800 m diep. Die Blyderivier Canyon begin by Bourke’s Luck Potholes en eindig by die Drie Rondawels. Die area is ook die tuiste van ‘n paar asemrowende watervalle en die Pinnacle, ‘n enkel dolomiet rots.)

 

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos