Dag 1 en 2 : 9 en 10 Augustus

Dag 1 en 2 :  9 en 10 Augustus 2013 / Out of Nature en oppad na Rundu

 

Vanuit alle oorde kom toergangers op Vrydag namiddag by Out of Nature, ongeveer 20km Suid van Windhoek bymekaar.  Daar word behoorlik gekuier en gegroet en geskenke word uitgedeel.  Toergangers is baie beindruk met hulle toerbaadjies en die baadjies word sommer behoorlik ingespan op die eerste aand – die rede – dis ysig koud – die grade,  -1.  Daar word  heerlik  gebraai en die ete is  uit die boonste rakke.  Vir baie was dit reeds ‘n lang dag op die pad en daar word vroeg ingekruip. 

Saterdagoggend na ontbyt vertrek ons na Pupkewitz Toyota in Windhoek, die amptelike borg van die Radio Namakwaland Toer na Zambië.  Hier ontvang elkeen van ons ‘n lekker bosbaadjie van hulle.  Na ‘n kort seremonie waarin Neal van den Berg en Bernard Lampbrecht vir Etienne Steenkamp,  Handelaarshoof van Pupkewitz bedank vir hulle borgskap, wens Ettienne ons voorspoed toe met die toer.  Kort daarna word daar in die pad geval  Rundu toe.  Die reis is voorspoedig, maar soos dit maar met so ‘n groot groep gaan, neem dit so bietjie langer as beplan en kom ons donker by ons blyplek aan.  Ter versagting moet daar darem gesê word dat dit ongeveer 750km se reis was en met 21 voertuie en 42 mense wil dit gedoen wees.  In die donker word daar geskarrel by ons blyplek, Nkwazi Lodge, sowat 21km Oos van Rundu.  Die voordeel is darem dat ons vanaand in die Lodge eet.  Toe ons daar arriveer was die kos reeds op die tafel en kon almal net aansit en die ete geniet. Die ete was smaaklik en ons het gesellig gesit en kuier.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos