Dag 10 Sondag 18 Augustus

Dag 10 Sondag 18 Augustus – Ons kuier op McBrides

Dis Sondag en ons word wakker met die geroep van ‘n visarend en die geraas van die seekoeie. Die leeus het baie van die toerlede die nag wakker gehou met hulle gebrul.  Hulle het verseker oor iets baklei.  Dis fantasties om te weet dat ons in Afrika kuier waar die wilde diere rondom ons rondloop.  Ons voel so bevoorreg.  Ons besluit om net eers rustig te wees en nadat Hannes Niewoudt vir ons ‘n treffende boodskap gebring het, getuig Bill Boltman oor wat die Here in sy lewe gedoen het. Die middag vertrek ‘n groep op ‘n wildbesigtigingsrit en ander op ‘n bootvaart op die Kaufue Rivier. Die bootvaart is  ‘n treffer en die sonsondergang asemrowend.  Die wildrit lewer tog sy kwota verassings op met leeus wat gesien word maar van die volop diere waarvan die media praat is daar min te sien.

‘n Groepie manne gaan visvang met die piesangboot en alhoewel die suksesse wisselvallig is, is die manne tevrede.  Die aand word daar om die kampvuur gekuier saam met die befaamde Chris McBride, skrywer van agt boeke en die navorser van die leeus van Timbavati. Ons hang behoorlik aan sy lippe oor wat hy vertel.  Die groep kry ook die geleentheid om uit te vra oor hulle lewe in die Kafue.  Chris kan nie uitgepraat raak oor die dissipline van die groep nie en is in sy noppies om ons as sy gaste te trakteer.  Wat hom veral opval is die heerlike ete wat voorgesit word en die feit dat ons vir ons kos bid.  Wat ‘n voorreg is dit nie vir ons as groot groep om hierdie terugvoer te kry nie.  Ons wil graag bekend staan as ‘n groep wat ‘n verskil maak daar waar ons gaan, al is die groep groot.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos