Dag 11 Maandag 19 Augustus

Dag 11 Maandag 19 Augustus – Ons kuier steeds op McBrides

Na ‘n rustige nag word daar bietjie later geslaap om die batterye te laai.  Nick van Wyk, Andra Steenkamp en Schalk en Amelia Nel vertrek egter vroegoggend op ‘n staptog saam met Chris McBride en een van sy gidse – gewapen vir enigiets onvoorsiens.  Hul is gelukkig om te voet op die leeus af te kom.  Alhoewel hul skrikkerig is, is dit vir hul ‘n wonderlike ervaring.   ‘n Tweede groep gaan uit op ‘n bootrit op die Kafue Rivier en hul het die voorreg om olifante, krokodille en seekoeie asook ‘n visarend te sien.  Die massas water is ‘n pragtige gesig en almal droom oor wat hulle met die water op hul plase sou doen.  Die meeste van die toerlede is in die boerdery bedryf en water is noodsaaklik. Die res beweeg in die Kafue Nasionale Park in hulle voertuie om die wild te besigtig.  Wild is egter nie volop nie, maar die laaste groep wat op die wildbesigtigingsrit saam met die bewaarders uitbeweeg, is ook gelukkig om teen sononder die leeus te sien.  Dit bly altyd ‘n hoogtepunt.  Soos elke ander aand word daar weer lekker om die vuur gekuier en gerus, want daar wag ‘n lang dag op die slegte pad die volgende dag.  Dis dieselfde roete as waarmee ons gekom het en niemand sien uit daarna nie – ons weet mos hoe sleg die pad is.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos