Dag 13 Woensdag 21 Augustus

Dag 13 Woensdag 21 Augustus – New Kalala na Livingstone

Vroegoggend moet daar gewikkel word want daar lê nog slegte pad voor na Livingstone. Die sirenes raas vroegoggend en ons vermoed dat dit die opstaan klok is. Maar, minute later het ons geweet dit was ‘n waarskuwing sirene vir ‘n massiewe dinamiet ontploffing. Ons is verras om te sien hoe mooi dit lyk by Itezhi Tezhi langs die Itezhi Tezhi meer, ons blyplek. Die kampterrein is op gras en van ons het sommer ‘strandfront’ erwe – word daar gespot. Die watermasse is onbeskryflik mooi – vir kilometers en kilometers. Na ontbyt ry ons ‘n draai deur die dorp en besigtig die ontwikkeling van die nuwe hidro elektriese kragstasie.

Daarna word die volgende slegte pad na Livingstone aangepak. Dit neem ons egter weer verder deur die Kafue Nasionale Park en geniet die groep die rit deur die bome, bosse en vlaktes. Stukke laat voel ons asof ons deur die Khaudom ry – soms lekker dik sand. Ons sien baster gemsbokke, Zambiese Swarwitpense, Pukus, Zebras, Blouwildebeeste en Bromvoels. Schalk Strauss sukkel met ‘n papwiel en daar word weer effens tyd verloor. By Kalomo klim ons op die teerpad. Dis behoorlik chaos, volgens ons standaarde, in die klein dorpie met massas mense op die strate en handel wat oral informeel gedoen word. Ons gee almal kans om bande op te pomp en bietjie tot verhaal te kom voordat ons die finale 120km Livingstone toe aanpak. Dis nie sonder probleme nie en Schalk moet maar ‘n nuwe band opsit en nog bande moet langs die pad gepomp word. Ons kom weer donker by ons bestemming by The Bushfront Lodge aan – weereens pootuit maar ons is dankbaar dat almal in een stuk is. Wian Carstens en Johan Potlood gee die karavane effens onwillig af aan hulle eienaars. Wat ‘n voorreg om sulke mense op die toer te hê. Dankie ook aan Oubaas Steenkamp wat nie geskroom het om  tegniese kennis te verleen wanneer dit nodig was nie. As daar iets breek, is Oubaas by met raad en daad!!! Nodeloos om te sê dat daar weer min kuiertyd was, maar ons is verlig dat al die slegte grondpaaie nou iets van die verlede is.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos