Dag 15 Vrydag 23 Augustus

Dag 15 Vrydag 23 Augustus – Livingstone na Mahango

Kan 2 weke so kort wees. Ons word vanoggend wakker met die besef dat die toer verby is. Dis nou oppak en terug huistoe. Ons het twee nagte by die Bushfront Lodge in Livingstone geslaap. Ongelukkig nie die beste blyplek in die omgewing veral wat diens betref nie. Tenspyte van ses maande se vooraf beplanning, fisiese besoek, korrespondensie tot ‘n week voor ons aankoms moes ons ontdek dat al die beloftes van die plek se bestuur bloot dit was, beloftes. Maar, ‘n groep mense soos hierdie Radio Namakwaland-toergroep hanteer alles uitstekend en almal fokus op dit wat lekker was en is.

Nic van Wyk lei ons oggend in met ‘n baie praktiese oordenking en almal is gepak vir die dag wat voorlê. Toe ons vanuit Livingstone vertrek, is ons baie opgewonde oor die goed instand gehoude pad. Die vreugde hou egter net tot kort na Kasangula.  Skielik is dit slagate waar jy soms moet stilhou voor jy kan deurry. Maar ons is nie meer bang vir gate nie, is gewoond daaraan en nadat ons n groepfoto van die voertuie geneem het kom ons binne skedule by die Zambiese grenspos aan. Dis n relatief maklike deurgang sonder veel formaliteite, maar daar is ‘n horde mense met dieselfde planne as ons en daar daag toe nog n Zambiese Minister onder vol begeleiding ook op. Ons paspooorte is gou gestempel en dan die volgende verrassing…by die Namibiese grens staan meer as tweemaal soveel mense soos by die Zambiese kantore. Die beamptes het hulle hande vol met die groep wat net wil klaarmaak. Op die ou einde word ons soos skoolkinders in’ n netjiese ry ingeboeder en ses op n keer word in die kantoor toegelaat. Uiteindelik is dit afgehandel en Katima se vulstasies word ingeval. Dit neem ten minste ‘n uur en selfs langer om 21 voertuie weer vol brandstof te kry nadat almal hulle tenks so leeg moontlik gery het om eerder die veel goedkoper diesel in Namibië in te tap.

Voor die brug oor die Kwando, by Kongola, word die voertuie se wiele ontsmet, almal moet uitklim en oor die nat sak loop. Die voertuie word almal deursoek vir enige vleis en vleisprodukte wat nie verder geneem mag word nie en as daar ‘n paar skoene iewers gevind word, moet jy trug na die dippunt en hulle skoon kry. Uiteindelik kan ons die laaste 260km aandurf na ons laaste aand se slaapplek.

By Mahango Lodge aangekom is almal verras oor die uitstekende kampeerterein, die uitsig, die diens en die fasiliteite. Vroegaand kuier die seekoeie saam en op die oorkantse wal suip die olifante en ons luister na ‘n duidelke bek, of slurp, geveg in die bos.

Vanaand is ons boskokke, Hermien Werner en Paulus af en ons eet in die lodge se restaurant. Die groep kuier baie lekker saam en ‘n paar ontvang pryse vir hulle bydrae en bystand tydens die toer. Belinda Carstens vir die grootste vis, Wian Carstens vir die meeste vis, Bernard Lambrecht vir die amperste vis, Wian Carstens vir die sleep van Christal Brand se woonwa en Johan Engelbrecht (Potlood) vir die sleep van Hannes Niewoudt se woonwa. Oubaas Steenkamp vir die ononderbroke ondersteuning wat hy gebied het, Leebia Engelbrecht, ons eie suster Teresa, wat altyd gereed was om iemand medies by te staan en Hannie Brand, net om te troos na die seekoei onderonsie. Ons Boskok Hermien vd Berg het ‘n spesiale geskenk gekry vir haar harde werk om die magies vol te hou en Neal vd Berg het ‘n geskenk ontvang as toerleier.  Die ander twee boskokke het ‘n hoed vol kontant gekry wat nie te versmaai was nie.

Toerlede wat elkeen ʼn geskenk ontvang het omdat dit al hulle 5de toer is wat hulle meemaak was, Johan en Leebia Engelbrecht, Christal en Hannie Brand, Koos en Yvonne Muller, Albie en Suzie Bakker, Wally en Yvonne Bester, Willem en Annette Smit,  Bernard ek Lanette Lamprecht,  en Neal van den Berg.

Nadat al die verrigtinge afgehandel is en vir oulaas lekker gekuier is, is daar eers ʼn groepfoto geneem sodat hierdie familie mekaar se gesigte nie kan vergeet nie.

Elkeen wat op hierdie toer was sal vir altyd weet…Zambië is Afrika!  Zambië, sal jy nooit kan vergeet nie.  Die mense is baie vriendelik, baie van die paaie is baie baie sleg, daar is baie Tsetse vlieë en nie so baie diere soos ons verwag het nie, maar die potensiaal op alle vlakke is daar om ontgin te word.  Dis ‘n land met baie potensiaal. Daar gaan nog baie stories om baie vure vertel word oor Zambië.

Dis met opregte diep dankbare harte teenoor die Here dat die groep van 42 mense in 21 voertuie die toer afsluit. ‘n Toer van 4500 km vir meeste en sommige selfs meer as 7000 km en slegs 3 pap wiele en 2 sleepstange wat dit nie gemaak het nie.

Aan God al die eer.  

 

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos