Dag 4 Maandag 12 Augustus

Dag 4 : Maandag 12 Augustus 2013 / NKwazi Lodge buite Rundu na Kabula Lodge in Zambie

Die nagrus by Namwi Island Camp langs die Zambezie Rivier was soet en ons het die voorreg om met die geroep van die Visarend en die geraas van ‘n seekoei wakker  te word.  Na ontbyt kry ons die geleentheid om in Katima Mulilo te gaan inkopies doen terwyl Neal soek na ‘n tandaarts.  Werner, een van die die lede van die kosspan, sit met tandpyn en daar word besluit dat die probleem aandag moet geniet voor ons die grens na  Zambië oorsteek.  Daarna vertrek ons na die Wenela grenspos.  Ons toerleier, Neal van den Berg het reeds voor die tyd al die dokumentasie in plek gekry en kon ons net ons paspoorte laat stempel.  Dit het ons 42 mense in 21 voertuie net twee ure geneem om deur die twee grensposte te gaan – voorwaar seker ‘n eerste. Almal is Neal baie dankbaar vir die voorreg.  Nadat ons sommer lekker tussen die grensposte gekuier het, het ons rustig na Kabula Lodge, ons eerste bestemming in Zambië, vertrek.  Dit was vir baie van ons ‘n groot oomblik om uiteindelik in Zambië aan te land. Die afstand wat ons vandag  reis is net 65km.  Dis 65km op die nuwe teerpad wat die Chinese besig is om te bou.  Dis voorwaar ‘n groot verbetering as mens kyk na dele van die vorige pad wat op party plekke steeds langs die nuwe roete gesien kan word. By die kampterrein aangekom het almal eers kamp opgeslaan en toe is daar lui lekker langs die Zambezi Rivier onder die groot bome en op die dek gekuier.  Van die mense het met die bote op die rivier gaan hengel en die eerste vis is ook gevang. Op hierdie stadium is dit ‘n vrou wat voorloop in die hengelkompetisie. Belinda Carstens het die grootste tiervis gevang. 

Die groep is nou nie meer vreemd vir mekaar nie en daar word vir die eerste keer tot laataand gekuier want die reis was kort en almal is uitgerus.  Die nuwelinge word in kennis gestel dat hulle slegs deur middel van ‘n item in ‘n konsert, volwaardig lid van die groep kan word.  Daar sal dan ook op Dinsdagaand konsert gehou word.

 

 

 

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos