Dag 6 Woensdag 14 Augustus

Dag 6  : Woensdag 14 Augustus  / Kabula  Lodge na Senanga River Lodge (130km)

Die nag was doodstil en pikdonker. Dis jammer dat mens moet opstaan en kamp opbreek en dit na twee dae se heerlik kamp en kuier in Kabula. Nadat Bernard en Albie Bakker  oor die radio met Radio Namakwaland se luisteraars gesels het, vertrek ons op pad na Sitoti, waar ons oor die Zambezi met ’n pont geneem moet word.

Die eerste 70km van die pad is ’n heerlike teerpad maar dan begin die skurf en die gate.  By ons aankoms daar, moet ons hoor en te sien dat daar stukke van die ratkas op die grond lê.  Ons moed sak vir ’n paar oomblikke in ons skoene, maar daar word op die walle van die rivier gekuier en ons beleef so iets van informele winkels en die primitiewe leefstyl van die mense.  Twee ure later dreun die enjins en die eerste sewe voertuie vertrek na die oorkantse oewer.  Twee en ’n half ure later is almal oor die rivier en kan ons vertrek op ’n 20km, amper onbegaanbare pad, na Senanga.  Ons besef dat die vloedwaters in die reënseisoen die gedeeltes onbegaanbaar maak en kry baie respek vir mense wat onder die omstandighede gebuk moet gaan – jaar na jaar.

By Senanga Safari Lodge word ons hartlik verwelkom.  Met enkele Afrika verrassings is dit ’n pragtige plek met beslis die mooiste uitsig van al ons kampeerplekke op hierdie toer.

Daar word heerlik vleis gebraai.  Daar word ‘n ‘hofsaak’ gehou teen toerlede wat ‘n oortreding begaan het  om sonder begeleiding, ’n onbekende pad aan te durf. Die Jurie het al tien beskuldigdes skuldig bevind en hulle straf sal  by ‘n volgende kampeerplek uitgedien word 🙂 .

Daar word weer vroeg ingekruip want die volgende dag is dit meer as 400km na Mayukuyuku, binne-in die Kaufue Nasionale Park.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos