Dag 7 Donderdag 15 Augustus

Dag 7 Donderdag 15 Augustus – Senanga River Lode na Mayukuyuku – Kafue Nasionale Park

Na ‘n effense raserige nag met ‘n ‘klein Saterdag’ partytjie langs ons blyplek en blaffende honde, geniet ons ontbyt op die oewers van die Zambezi.  Die massas water en mense wat oral op mokorros rondry,op reis na iewers, is ‘n pragtige gesig.  Na ontbyt vertrek ons van Senanga River Lodge na Mongo.  Hier kry almal kans om brandstof te hervul en aankope by die plaaslike winkels te doen.  Na ‘n uur vertrek ons na Mayukuyuku.  Wat ‘n belewenis.  Die pad, die padwerke, die verkeer, die mense!!!! Ons sien oral fietse gepak met gevlegte matjies, sakke kole en dekriete  wat seker iewers verhandel sal word.  Op een fiets word daar selfs meubels vervoer.  Ons sien ‘n goudgeel bus wat soos ‘n krap oor albei bane van die pad loop, bagasiebakke en sleepwaens wat tot oorlopens gelaai is en ‘n pad gesaai van slaggate.  Ons ry behoorlik die hele pad vol om al die slaggate te probeer vermy. Instandhouding word wel plek plek gesien maar dit lyk nie of daar baie sukses is nie.  Die afstand wat ons reis is ongeveer 445km, maar dit neem ons die hele dag as gevolg van die slegte padtoestande.  Die gras langs die pad is ook lank en die spoed beperking is 90km om voorsiening te maak vir diere wat enige tyd oor die pad kan hardloop.

Dis reeds skemer toe ons by  ons bestemming aankom.   Ons is bevoorreg om reeds ‘n klompie letchwes, ‘n olifant, waterbokke en hartebeeste te sien.  Daar word dadelik kamp opgeslaan, gestort en lekker langs die vuur gesit en kuier.  Ons kry bobotie in blikkies gemaak en rys vir aandete met triffle vir aandete. Die sonsondergang is onbeskryflik mooi.  Mayukuyuku is langs die Kafue Rivier en ons raak aan die slaap met die geraas van die seekoeie in die agtergrond.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos