Dag 9 Saterdag 17 Augustus

Dag 9 Saterdag 17 Augustus – Mayukuyuku na McBrides

Wat ‘n nag.  Daar kuier ‘n oligfant vir amper drie ure tussen toerlede se blyplekke.  Hy beweeg so geruisloos dat mens net die breek van die takke en gegrom van sy maag hoor.  Hy hou baie van die toerlede die nag wakker met die onsekerheid oor waarheen hy volgende oppad is.  Van die toerlede het die ervaring dat hy so naby aan hulle is dat hul net hul hand by die tent kan uitsteek om aan sy poot te raak.  Hy skuur ook liggies teen een van die voertuie.  Gelukkig is daar geen voorval nie, maar niemand het ‘n foto om dit te bewys nie omdat almal onseker is oor die reaksie van die olifant van ‘n flitsende kamera lig.  Niemand waag ‘n kans nie.  Ons is mos veronderstel om na mekaar om te sien.

Vanoggend is dit oppak en totsiens sê aan n pragtige bosplek. Mayukuyku was spesiaal. Van Mayukuyuku af vat ons die pad na McBrides. Die twee kampplekke is teen die rivier af enkele kilometers van mekaar af,  maar padlangs en dis n dag se reis per 4×4. Die eerste groot uitdaging was om die 21 voertuiemet net een dieselpomp by die enigste vulstasieop ‘n dorpie met die naam Mumbwa, vol brandstof te kry. Die pomp werk gelukkig en daar is genoeg brandstof vir almal. Dit neem ongeveer twee en ‘n half ure om weer aan die ry te kom.  Ons durf die pad – of kom ons sê, wat eens ‘n pad was,  aan.  Almal is oortuig dis die slegste 30km wat hulle al ooit gery het. Dit neem ons langer as vier ure om die kort stukkie pad te  ry.  Ten spyte van die slegte pad is die  groot bome pragtig, die kleure, asof dit herfstyd is.  Ons sien egter geen diere nie maar tog so klein bietjie grond waarop landbou aktiwiteite plaasvind.  

Nader aan die kampterrein sien ons ‘n bietjie diere.  By die kampterrein aangekom, word ons deur die eienaar van die plek, mnr Chris McBride ingewag. Die kampterrein is baie ongerep en kan ons eintlik maar daarna verwys as ‘n boskamp.  Daar is tog storte met warm water en toilette en is ons dankbaar daarvoor.  Daar word kamp opgeslaan letterlik tussen die bosse.  Ons bly vir drie dae hier en ons weet nie wat vir ons wag nie.  Langs die pad het ons baie tsetse vlieë teegekom maar gelukkig is daar nie by die kampterrein nie.  Langs die pad moes mens vinnig in en uitklim anders pak hulle behoorlik jou voertuig vol en die steek van so ‘n vlieg is ‘n brandende ervaring.  Ons is egter verras dat daar nie muskiete is nie.

Na die dag se sleg pad, die gewag by die brandstofpomp en onderonsies met Tsetsevliee,  is ‘n vroeg inkruip net die ding en almal verdwyn stil stil na hulle slaapplekke.

Deel dit!

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on print
Druk
Share on email
Epos