Tot Sy eer.
Search

Melkkos

Melkkos : Genoeg vir 4

Bestanddele:
170 g koekmeel
1 ml sout
40 g koue Clover Mooi River botter, in blokkies gesny
1 liter Clover Mmmilk
1 kaneelstokkie
1 lourierblaar
kaneelsuiker

Metode:
1. Meng die meel en sout saam en vryf die botterblokkies met die vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk.
2. Verhit die melk, kaneelstokkie en lourierblaar saam tot kookpunt.
3. Verlaag die hitte en verwyder die kaneelstokkie en lourierblaar.
4. Roer die meelmengsel geleidelik by die warm melk met ‘n draadklitser. Prut 8 tot 10 minute en roer aanhoudend.
5. Sit warm voor met kaneelsuiker.

Wenk: Gebruik ‘n stokmenger om ‘n sygladde tekstuur te verseker.

Wenk: moenie die meelmengsel by die melk gooi nie. Gooi die kookmelk bietjies-bietjies by die meelmengsel en klits met ‘n draadklitser, tot al die melk by die meel is. Gooi dan terug in die kastrol om verder te kook. As jy die meel by die melk gooi, maak dit klonte wat geen stokmenger kan fynkry nie!

 

Snysels:

 3 eiers

2.5 ml sout

250 ml koekmeelblom

Water

Kokende melk

2 stukke heel kaneel (opsioneel)

Kaneelsuiker

Klits eiers en sout effens. Voeg koekmeelblom by en meng goed. Voeg genoeg water by om ‘n stywe deeg te vorm. Knie deeg lank en goed tot dit elasties is. Rol sowat 6 mm uit op ‘n meel bestrooide oppervlak uit. Sny met ‘n skerp mes in dun repies.

Kook die snysels sowat 15 – 30 minute lank in kokende melk (gebruik 250 ml melk per persoon) tot dit gaar is. Voeg 2 stukke heel kaneel by indien verkies. Skep in diep borde en strooi kaneelsuiker oor.

Deel dit!

Facebook
Twitter
WhatsApp
Druk
Epos