Tot Sy eer.
Search

Radio Namakwaland ontvang ATKVeertjies

Radio Namakwaland is die eerste Gemeenskapsradio wat die gesogte toekenning ontvang het. Hier volg die lys van die toekennings van 2005.  Radio Namakwaland het regtig met bekende mense in die radio bedryf meegeding.

ATKV VEREER UITBLINKERS MET VEERTJIE-TOEKENNINGS

Verskeie Suid-Afrikaners wat in 2005 op verskeie terreine van Afrikaans uitgeblink het, word Vrydagaand, 24 Maart, deur die ATKV vereer. Vanjaar word die gesogte ATKVeertjie-toekennings tydens ‘n spoggeleentheid by die Union Church in Rosebank oorhandig. Daar was stywe mededinging in verskeie kategorieë vir hierdie gesogte toekennings.

 ATKV-RADIOPRYS 2005:   

Die ATKV-Radioprys word toegeken aan dié persoon wat die vorige jaar uitgeblink het met ‘n radioprogram wat die Afrikaanse taal en kultuur op ‘n besonder kreatiewe manier bevorder het.

Vanjaar is toekennings in ses kategorieë gemaak uit ‘n totaal van 58 inskrywings. Elke kategoriewenner ontvang R3 000 en die gesogte ATKVeertjie-toekenning. Die kategoriewenners is:

Beste programinsetsel:

Ettienne Ludick tydens die program Oggende op RSG, vir Die Nushu taal in China, ‘n klankbeeld oor een van die vreemdste tale in die wêreld. Nushu word slegs deur vroue in Suidwes-China gepraat. (Uitsaaier: RSG).

Beste onderhoud:

Fonnie du Plooy vir ‘n Onderhoud met die Pienaargesin op Oggend op RSG. Die onderhoud bestaan uit dele waar daar eers met die Ma, en dan met Marlelie Pienaar gesels word. Marelie is al van die ouderdom aan ‘n ventilator gekoppel. (Uitsaaier: RSG)

Beste aanbieder:

André Liebenberg wen hierdie kategorie vir Kerssaluut 2005 uitgesaai op RSG. Die bekende kersverhaal en die gebeure rondom Christus se geboorte word op ‘n vars en insiggewende manier geskets.

Beste program: Tydskrif/Leefstyl:

Radio Namakwaland wen vir die eerste keer met regisseur Annette Smit se program Bewaar die Sederboom! Die Sederboom kom wêreldwyd net in die Radio Namakwaland ontvangsgebied voor en bewaring daarvan is belangrik. Die program wys sy hoe die hele gemeenskap by ‘n bewaringsprojek betrek kan word deur die nodige kreatiwiteit aan die dag te lê. (Uitsaaier: Radio Namakwaland)

Beste program: Musiek/Verskeidenheid/Drama:

Skrywer en regisseur Helena Hugo se drama Swane wen vanjaar hierdie kategorie. Dit handel oor die toestand, depressie, wat gevaarlik toeneem en dikwels lei tot selfmoord by tieners. (Uitsaaier: RSG)

Beste program: Nuus/Aktualiteit/Dokumentêr:

Annette Smit van Radio Namakwaland se dokumentêr Selfmoord handel oor die impak wat selfmoord op geliefdes het wat agterbly en mense ontmoedig om dit as ‘n oplossing vir hul probleme te oorweeg. (Uitsaaier: Radio Namakwaland)

Vir meer inligting oor die pryse kontak Roline Haine by (011) 919-900. Meer inligting oor die ATKVeertjie-toekenningsaand kan verkry word by die projekorganiseerder, Ilse Schürmann, by (011)919-900. Of kliek op www.atkv.org.za.

Deel dit!

Facebook
Twitter
WhatsApp
Druk
Epos